Armoria
http://www.geocities.com/armoria_frage

VDG

Wat is my familiewapen?

waarskuwing

HIERDIE vraag is gewoonlik gebaseer op die aanvaarding dat elke familie ’n heraldiese wapen besit, dat elkeen wat die naam voer geregtig is om die wapen ook te voer, en dat al wat nodig is, is om die wapen te vind en daarop aanspraak te maak.

In die oorgrote meerderheid gevalle is hierdie gedagte ongegrond. Heelwat families het in die historiese verlede nooit ’n heraldiese wapen besit nie, en in sommige lande word famlies wat nie van die adel deel uitmaak nie, maar wat wel van adellikes afgestam is, volgens die reg verbied om wapens te voer.

In werklikheid besit slegs enkele families wapens waarop alle familielede moontlik geregtig is, en dit val in twee kategorieë:

1. Nie-adellike families wat uit die Heilige Romeinse Ryk[1] stam, maak aanspraak op die reg tot burgerlike wapens (bürgerliche Wappen) wat nie onderworpe is aan die strenge reëls wat die wapens van aristokrate vanuit hul oorsprongslande beheer.

Tot sover hierdie reg wel bestaan – en dit is aan hewige regsargument onderworpe – is dit nietemin verkieslik om bevestiging van eienaarskap tot die wapen te verkry deur registrasie onder Suid-Afrika se Heraldiekwet (1962) of die verkry van ’n verlening of registrasie onder vergelykbare wetgewing in ander lande.

Geen soortgelyke reg bestaan in enige vorm nie vir families met hul oorsprong in die Britse Eilande, in die Middeleeuse Franse koninkryk (dit wil sê, daardie dele van die huidige Frankryk wat buite die Ryk geval het), in Spanje, Portugal, Italië of Skandinawië nie.

Families wat uit Griekeland en Siprus afkomstig is het soms wapens wat terugdateer tot die gebruik daarvan onder die Frankiese keisers op Konstantinopel en die Kruistogter-konings van Siprus, maar die oorgrote meerderheid families wie se vaderlike afstamming na suid-oostelike Europa teruggevoer kan word, het geen heraldiese tradisie waarop hulle kan staatmaak nie. Hulle word nie van die optrek en verkryging van heraldiese wapens uitgesluit nie, maar daar is geen antieke presedente nie, en hulle moet handel in terme van die landswette.

2. Families wat uit Pole en die Russiese Ryk stam kan dikwels aanspraak maak op ’n wapen volgens ’n sisteem van stam-simbole wat in die laat-Middeleeue en die vroeë Moderne tyd in gebruiik geneem is. Van hierdie sisteem dra ek egter weinige kennis, en dit is van uiters beperkte toepassing in Suid-Afrika.

Jy vra miskien: Wat dan van die wapen van ’n familieverbond? Die antwoord is dat wanner ’n familieverbond ’n wapen registreer, is dit die eiendom van die verbond, nie van enige indiwiduele lid nie. Enige lid van die familie mag dit vertoon, maar geeneen mag dit as sy of haar eie beskou nie.

* Vir ’n in-diepte bespreking van die stelsel van familiewapens, kyk die artikel Het jy ’n familiewapen? en die artikels onder die hoofopskrif Familiewapens: Hoe verskillende deviese aanmekaar skakel.

* ’n Uitgebreide versameling wapens wat na bewering aan Suid-Afrikaanse families behoort kan in Suid-Afrikaanse Familiewapens gevind word. Die werfmeester van Armoria kan ook, indien dit versoek word, beelde van wapens wat in C Pama se Groot Afrikaanse Familienaamboek verskyn, voorsien.

LET WEL: Dit is nie onwettig om ’n wapen wat nie jou eiendom is nie, te vertoon nie, mits die aard van die vertoon dit duidelik maak dat jy nie op die wapen self, of op die gesag wat dit verteenwoordig, aanspraak maak nie.

Enige vertoon wat egter dit voorgee dat jy die eienaar is van ’n wapen wat in werklikheid nie aan jou behoort nie, of dat jy die gesag van die eienaar uitoefen, het die gevolg dat die regmatige eienaar jou om vergoeding mag dagvaar, en jou laat verbied om die betrokke wapen te vertoon.

Vir ’n bespreking van die heraldiek as regsisteem, kyk hierdie bladsy.



[1] Die Heilige Romeinse Ryk (800nC – 1806) het deur sy geskiedenis ’n wisselende getal state en gebiede ingelyf, maar in breë terme kan dit gesê word dat dit Duitsland, Switserland, Oostenryk, Boheme en Morawië, Nederland, België en Luxemburg ingesluit het, asook dele van noord-oostelike Frankryk insluitende die graafskap Boergondië (ook bekend as Franche-Comté – die hertogdom Boergondië het aan Frankryk behoort), Lotharinge en Elsas, en ook in die vroeë tyd Denemarke en groot dele van Italië en suid-Frankryk.

Suid-Afrikaanse families wat op burgerlike wapens aanspraak maak, kom hoofsaaklik uit die Lae Lande (Nederland en België) en uit Duitsland.


Counter

Volgende vraag

Terug na bo

For English, click here


Terug na VDG-indeks

Terug na Heraldiek-ABC-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

1