VDG
Waar kan ek ’n edeltitel koop?
DAAR IS verskeie inrigtings wat daarmee spog dat, vir ’n sekere bedrag geld, jou met ’n egte edeltitel kan voorsien.
WEES GEWAARSKU: Daar bestaan nie so iets soos ’n egte handelaar in edeltitels nie.
DAAR IS EGTER enkele soorte heerlikhede wat gekoop kan word. In Brittanje val dit in twee kategorieë:
1. Skotse feodale baronskappe. Baie van die feodale baronskappe van Skotland is nooit in die Britse peerage ingelyf nie, en Skotse reg laat dit toe dat die caput van ’n baronskap – gewoonlik ’n spesifieke stuk grond wat beskou word as die kern van die baroniale domein – verkoop mag word.
Die nuwe eienaar van so ’n eiendom mag dan ’n petisie aan die Wapenkoning Lyon rig – hy het in Skotland gesag oor sulke sake – vir erkenning as “die baron van ___”, of “baron ___”.
Sulke feodale baronne mag egter NIE die styl “Lord ___” gebruik nie. Dit word vir lede van die House of Lords gereserveer.
2.a. Engelse manor-landgoede: Van tyd tot tyd sal ’n Engelse landgoed, van die tipe wat ’n “manorial lordship” genoem word, op die mark kom, en kan miskien vir ’n aansienlike som geld verkoop word.
Maar weereens laat die besit van so ’n eiendom die eienaar nie toe om ’n Britse peer[1] te wees nie. Hy (of sy) mag “Lord of the Manor of ___” genoem word, maar nie “Lord ___” – dit word vir lede van die House of Lords[2] gereserveer.
2.b. Skotse lairdskappe: Soortgelyk aan die Engelse manor is die soort Skotse landgoed wie se eienaar die titel “laird” mag gebruik. Soos in die geval van ’n feodale baronskap, kan dit dikwels verkry word deur die aankoop van ’n belaglike klein stukkie grond.
Die verkopers van sulke “posseël-grootte” landgoedere sal dikwels sulke onsin voorlê as die argument dat die titel laird in vreemde lande skaars bekend is, en dat dit toelaatbaar is om jou dan as “Lord ___” voor te gee.
Soos in die twee vorige gevalle, is dit reine onsin.
DIT MOET EGTER BEKLEMTOON WORD dat nòg ’n Skotse feodale baronskap, nòg ’n mindere landgoed – sy dit nou ’n Engelse manor[3] of ’n Skotse lairdskap – sy eienaar sal toelaat om as lid van die edelstand beskou te word nie.
Edeltitels is gawes van gekroonde heersers, van wie Europa maar ’n handjievol oor het. Dit is nie moontlik om daarin handel te dryf nie.
Soms sal die houer van ’n stokou titel geen lewende nageslag hê vir wie hy sy titel mag aangee nie. By tye sal ’n handelaar in sonderlinge en obskure materiaal miskien adverteer dat so ’n titel aan ’n vreemdeling in ruil vir ’n ontsaglike som geld oorgegee mag word. Enigiemand wat deur so ’n uitnodiging verlei word behoort om op sy hoede te wees.
Vir betroubare inligting aangaande die koop van Skotse feodale baronskappe, Engelse manor-landgoede, Skotse lairdskappe en ander sulke verhandelbare titels, is daar twee webwerwe wat jou vrae gesaghebbend sal beantwoord: Fake Titles en The Baronage Press.
Dit het so suksesvol die besigheid van bedrieërs ondermyn dat dit die teiken was van ’n verskeidenheid aanvalle, gewoonlik deur agterbakse weë, en meestal deur die manipulering van die Internet.
Geen poging is gemaak om vir Baronage deur die Britse geregshowe te nader nie, wat ’n redelike manier sou wees om vergoeding te soek, sou dit valse, onregverdige of onjuiste inligting gepubliseer het – ’n aantyging wat dikwels daarteen gemaak is.
[1] Die Engelse woord peer kom van die Franse pair, en dui op ’n persoon wat gelykstaande is met die soewerein; ’n lid van die adelstand.
Die Skotse ekwivalent van ’n Engelse baron word ’n Lord of Parliament genoem; anders as die Skotse feodale baron is so ’n heer wel ’n edelman.
[2] Die styl “Lord ___” waar dit met ’n voornaam gebruik word, eerder as ’n familienaam of titel, word gereserveer vir die seuns van Britse hertoë en markiese, en vir die oudste seuns van grawe. Die oudste seun van ’n Britse graaf sal gewoonlik ’n hoflikheidstitel gebruik, en sou dus in elk geval hierdie styl nie gebruik nie.
Vir vroue, is die styl “Lady ___”, waar dit met ’n voornaam gebruik word, gereserveer vir die dogters van hertoë, markiese en grawe.
Die vrou van ’n lord (gewoonlik ’n burggraaf of baron), ’n Skotse feodale baron, ’n baronet of ’n ridder sal gewoonlik die styl “Lady ___” saam met haar man se titel of van gebruik – nooit die voornaam nie. ’n Alternatief is om “Dame ___” met die voornaam te gebruik, maar alhoewel dit tegnies
aanvaarbaar is, word dit selde aangetref.
[3] ’n Manor is ’n spesifiek Britse konsep, bestaande uit ’n landgoed wat sedert die Middeleeue as ’n manor behoue gebly het.
Die Oxford Illustrated Dictionary definieer ’n manor as: “English territorial unit, orig. feudal, now lord’s demesne and lands from whose holders he can exact certain fees etc.”
Die setel van manor word gewoonlik die “manor house” genoem, maar die gebou mag soms ’n spesiale plaaslike designasie hê.
Daar is ’n besonder Suid-Afrikaanse soort snobisme wat ’n ou Kaapse plaasopstal, en veral die Kaaps-Hollandse huis daarop, as ’n “manor” of ’n “manor house” sal beskryf. Dit is ten beste ’n onhoudbare verwaandheid, en op
sy ergste ’n verregaande voorbeeld van ’n eiendomsmakelaar se brabbeltaal wat as doel het die opjaag van pryse, ofskoon vir die verkoop van so ’n eiendom of maar bloot vir ’n produk of diens wat daarmee geassossieer word.
Kyk weer na daardie definisie: die manor was “originally feudal” – hul oorsprong is in die Middeleeue. Die feodale stelsel was in Europa – of ten minste in Nederland – reeds tot niet toe Jan van Riebeeck in Tafelbaai geland het. Die koloniale sisteem van grondbesit is wel deur sosialistiese ideoloë as feodaal gebrandmerk, maar in werklikheid was dit glad nie so nie.
Opmerkings, navrae: Mike Oettle