Sondag, laat – Barcelona
Rambla de Catalunya aan ’n feestige tafeltjie met ’n rooi tafeldoek; alles laat en vol, orals die klank van Spaans – Spaans met mense in, vol van ver en weg, koue bier en tapas wat so mooi ruik dat alles na ’n ander lewe moet proe, maar jy sê ek moet asseblief “bitte keine Witze machen” want jy gaan huil, jou oë swem al klaar. Jy weet nie wat nou skielik so vreeslik fout is nie, seker hormone, maar jy’t jou die hele dag lank sien dikker lyk in hierdie blink winkelvensters as elke vrou so oud soos jy in hierdie mooi stad en jou hare val uit en jou vel pak op en ek moenie vir jou sê dat jy vir my mooi is nie want hoe sal ek weet want sien ek kyk nooit eers meer rêrig vir jou nie. Dis die probleem met my, sien? Ek’s altyd êrens anders, maak mos altyd of alle ydelheid nonsens is. Ek dink mos alles is buitendien uit rot en verval aanmekaargesit, maar ek moenie glo dat ek so vir jou help nie want die ander mans is in elk geval “überhaupt nicht” glad nie soos ek nie en jy wil vir ander mans ook mooi wees, sodat hulle na jou moet kyk, sodat jy kan goed voel saam met my en ek sê maar hulle kyk, hulle kyk ek sweer, maar dis nie oortuigend nie want jy sluk so absoluut redeloos bedroef, jy kyk so godverlate deur my dat ek onredelik woedend wil raak van onmag, maar ek drink maar ernstig bier, probeer simpatiek toemaar kyk, probeer jou hand vat, maar jy trek weg en ons sit maar so tot jy nie meer kan nie en sê ons moet asseblief “bitte” hotel toe en bed toe jy voel naar van misrabel jy’t ’n klip in jou maag, “einen Stein im Bauch”, jy’s jammer jy weet nie, seker niks, “es geht schon wieder” maar nou huil jy rêrig en ek ek sit en kyk na jou sit net en kyk na jou. |