Stertrap

In die kelders van die slaap
dwaal Bloubaard. Hy volg ’n fluit,
’n asemteug sonder einde of begin
lok hom deur die stil gange uit

Verby gesigte, portrette teen ’n muur,
’n gefluister in die stof,
deur name, vrouens wat hy skaars onthou
na balkonne en terrasse in sy kop.

Die fluit word dun, ’n silwer slang
glip oor die vlakte na ’n berg
en rek hom teen die naglug uit
om tussen sterre te gaan hang.

Bloubaard voel dof. Sy oë krap.
Agter skerms rys die eerste lig.
Hy strek hom uit, reik deur die dak,
seil dan na die sterre, trap vir trap.
1