“Hawad, der einzige dichtende Tuareg”
“Paris, hier bin ich meinem Kopf vorauseilend, Meinem Kopf eines ewigen Tuareg-Piraten Sinnbild des Schmerzes, ich komme, hier bin ich den Tabak der Ironie kauend.” Hawad, Horizontenentführung Beste Hawad Toe jy op die verhoog verskyn het hier in Bremen voor ’n afgerigte gehoor vol ontwerpersbrille het ek nie geweet wat om te verwag nie. Op die feesprogram van International Poetry on the Road word jy as “die enigste digtende Toeareg” geadverteer. Daar is min dinge wat my so minagtend laat snork as hierdie soort neerbuigende politieke korrektheid. Hulle kon jou net so wel as “olifantman” of “vuurvreter” aankondig. Maar toe jy, Hawad, met jou willewragtag-James Brown-afro en denimbaadjie begin brom en breek in Toeareg was ek net bly dat hulle jou genooi het. In ’n stywe Noord-Duitse lesingsaal het jy my laat hoor hoe mens in die moedertaal van woestyn streng met voorvadergeeste en Navo moet praat; hoe jy die wilde woestynwind paai in ’n sterwende taal. Hawad, as jy so sou te kere gaan op ’n straathoek sal hulle jou opsluit. As jy so sou huil en bid op ’n anonieme sterfbed in Parys sal die mense dink jy praat in tale en die dosis verdubbel. Beste Hawad Ek wens jy kon weet hoe ek verstaan – verstaan van praat met ’n koue, nat Novembernag in ’n taal wat my vrou nie verstaan nie; hoe ek weet van skipbreuk-roei met die tong in ’n sinkende idioom. Hawad, ek sien jy weet hoe dit voel om dooie woorde te slinger na stilte as die diep woestynnag oor jou tent kom buk om die kampvuur uit te doof. |
. |