Temas – blomme
Om meer te leer oor die wapens wat hier verskyn, kliek op die beelde.
BLOMME van vele soorte word in Suid-Afrikaanse wapens gevind. Miskien is madeliefies of gousblomme die beste bekend, en twee verskillende soorte kom in provinsiale wapens voor. Noord-Kaap het twee Namakwa-gousblomme – heel waarskynlik Arctotis breviscapa, alhoewel die blom wat gewoonlik Namakwalandse gousblom genoem word, die Arctotis fastuosa is. Die Engelse benaming Namaqua daisy word aan die ander kant gebruik vir Dimorphotheca sinuata. Die rooigousblom (Gerbera jamesonii of Barberton daisy) verskyn in die wapen van Mpumalanga, en word herhaal in die kroon wat hierdie provinsie in plaas van ’n helmteken voer.
’n Veral treffende inheemse blomsoort is die Oranjerivier-lelie (Crinum bulbispermum), wat in die wapen van die Provinsie Vrystaat voorkom.
Nog ’n pragtige inheemse blom is die strelitzia (Strelitzia reginæ), wat in verskeie wapens voorkom. Hier sien mens dit in die wapens van die Primêre Skool Sunridge en van die Provinsie KwaZulu-Natal.
En terwyl die natuur heelwat verskillende aalwynsoorte ken, is dit in die Oos-Kaap hoofsaaklik Aloe ferox wat in wapens voorkom. Die wapen van die Afdelingsraad Port Elizabeth (onder regs) het nie net twee aalwynplante bo in die skild nie, maar ook twee turksvyplante (Opuntia ficus-indica), ’n plantsoort wat tans op die lys verbode uitheemse plante verskyn. Amper om vir hierdie blaps te vergoed, het die raad se wapen ook (buite die skilduitlyn), vier bloeiwyses van ’n ongespesifiseerde proteaspesie – waarskynlik Protea repens, of miskien P neriifolia.
Aalwyne verskyn ook in die wapen van die Nelson Mandela Metropool en van die Hoërskool Brandwag, en ’n verdere een is in die wapen wat in 1997 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens in gebruik geneem is (in plaas van die 1930-weergawe van die Unie-wapen wat voorheen in dieselfde ster deur die Suid-Afrikaanse Polisie gevoer is).
Twee proteaspesies verskyn in die wapen van die Unie (en Republiek) van Suid-Afrika. Die nasionale blom, Protea cynaroides, kan tussen die agterbene van die regter skildhouer gesien word, waar dit vanuit die grond (waarop die skildhouers staan) groei. Aan die linkerkant is nog ’n protea, maar dis nie heeltemal duidelik watter spesie dit veronderstel is om te wees nie.
En in die “opgangskring” van die wapen wat Suid-Afrika in 2000 in gebruik geneem het, verskyn ’n gestileerde P cynaroides in die kleure van die landsvlag.
P cynaroides verskyn ook in die kroon wat Wes-Kaap in plaas van ’n helmteken gebruik, en ’n ongespesifiseerde proteaspesie verskyn in die helmteken van die Buro vir Heraldiek.
In die wapen van Oos-Londen verskyn aalwyne (waarskynlik A arborescens) in die kompartement of grond, maar hulle is belaglik klein tussen die agterpote van die buffels. Transkei het ’n paar aalwyne wat soortgelyk klein is, maar hierdie maal in die helmteken.
’n Waterlelie kan in die wapen van Despatch gesien word.
Uitheemse blomsoorte kry nie meer die voorkeur wat hulle vanmelewe geniet het nie, maar die sonneblom (Helianthus anuus), omdat dit ekonomies van waarde is, kan in die helmteken van die Provinsie Noord-Wes gesien word.
En dan is daar eksotiese plante wat spesiale betekenis het want hulle is simbole van lande waar setlaars in hierdie land vandaan gekom het. Die distel verskyn in twee wapens uit Albany – twee distels is in die skildhoof van die wapen van Rhodes University, terwyl ’n enkele distel die skildhoof van die Afdelingsraad Albany met ’n prei (leek) en ’n klawerblaar (shamrock) deel, onderskeidelik simbole van Wallis en van Ierland.
Vir die Sjinese volk is die papawer ’n belangrike nasionale simbool. Twee gestileerde papawers is in die wapen van Chinese High School, Port Elizabeth.
Gestileerde blomme kom eintlik heel dikwels in die heraldiek voor. Die bekendste is die fleur-de-lys (of lelie), die simbool van die konings van Frankryk, wat op verskeie maniere geteken kan word (een gesaghebbende noem dat daar meer as 40 style is). In die wapen van die Colonie Kaap de Goede Hoop word hulle gebruik om die Franse vlugtelinge (dikwels Hugenote genoem) wat onder die Nederlandse bewind hulle aan die Kaap gevestig het.
Nog ’n gestileerde blom wat in die heraldiek opduik is die vyfblaar – of formeel getekende vyfblarige blom – wat in die wapens van die Stad en die Universiteit Port Elizabeth gesien kan word. Dan is daar ook die vierblaar, wat in die wapen van Hoër Tegniese Skool Newton voorkom: hierdie een is geledig, en die veldkleure van rooi en swart kan daardeur gesien word.
En om weg te breek van plante wat tradisioneel as blomplante beskou word: die papkuil verskyn in die helmteken van Port Elizabeth se Westering High School.
Terug na bo
Terug na temas-indeks
Terug na Armoria-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle