Die JJ Potgieter Manuskrip

Die laaste skof

Die volgende oggend van 23 Januarie 1902 het hulle weer voort gegaan. Hulle het tot omtrent twaalf uur geloop, toe hulle weer teen ‘n paar swart dorpies vasgeloop het. Hulle kruip toe vir die res van die dag in die bosse weg. Hulle het daar in die warm son amper dood gegaan van die dors. Hulle het die laaste stukkie brood vir ontbyt opgeëet. Al was hulle baie honger en dors, het hulle heel dag in hulle wegkruip plek bly lê. Op een stadium het ‘n swart man met ‘n geweer naby hulle wegkruip plek rond geloop op soek na ‘n bok om te jag. Die burgers het hulle baie stil in hul skuiling gehou. Na ‘n rukkie het die man ‘n bok naby hulle neergesit en begin om teiken op die bok te skiet, maar hy het gemis. Toe die son onder gaan het die man terug na die kraal geloop.

Die burgers het gewag totdat dit heeltemal donker is voordat hulle hul skuilplek verlaat het. Hulle het vir omtrent twee uur deur ‘n pragtige landery gestap. Daar was niks om te eet nie, maar die landerye was baie fraai! Dit het aan die mense van Malippo, op die Wolkberg, behoort.

Hulle het aangehou loop en deur nog ‘n swart stat gegaan, maar daarna was die pad oop. Hulle het tot een uur in die oggend geloop voordat hulle geslaap het. Hulle was baie honger, maar het nou darem genoeg water gehad. Die vlugtelinge het gehoop dat daardie nag die laaste nag van sukkel sou wees. Die verwagting dat hulle die volgende dag met die kommando sou herenig word het hulle vol moed gemaak.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1