Die JJ Potgieter Manuskrip

Vlug na die Wolkberg

Beyers het aan die hele kommando opdrag gegee om te vlug en al die waens en kos agter te laat. Die waens sou die kommando te veel vertraag. Die meeste van die kommandolede moes te voet vlug. Jacobus het vir Generaal Beyers vertel van die fraai lande, diep in die Wolkberg, waardeur hy geloop het gedurende sy sewe dae op vlug. Dáár kon hulle weer duisende sakke vol graan oes. Generaal Beyers het toe vir Jacobus opdrag gegee om die kommando deur die nag na die plek te lei.

Sodra dit donker geword het, het die kommando Malipspoort verlaat. Die bosse was baie dig en daar was geen voetpaaie wat hulle kon volg nie. Slegs ‘n paar Boere het perde of muile gehad om mee te vlug. Die perde was ook nog maar bra maer. Jacobus het ‘n totaal van 130 voetgangers teen die steil berg op gelei. Die berede troepe moes ‘n ompad volg aangesien dit te steil en ruig was vir die perde.

Die kommando het dwarsdeur die nag gevlug. Teen sonop het hulle reeds die helfte van die pad na die Wolkberg afgelê. Vier perde het teen ‘n steil krans gestruikel en afgeval. Die Boere kon nie tyd verspil om eers terug te gaan om ondersoek in te stel of die perde nog leef nie. Hulle moes maar net so vinnig moontlik aanstoot.

Laat in die dag het die kommando die fraai lande bereik. Toe die swartes die Boere sien aankom het die meeste op vlug geslaan. Slegs ‘n paar het hulle teë gesit en een is gewond en een is gedood. Die Boere het Engelse Lee-Enfield gewere met ammunisie by die swartes wat gedood en gewond was gekry. Generaal Beyers was in sy skik met die plek waar Jacobus hulle heen gelei het. Hulle het voldoende kos en voer vir die perde daar gekry. Daar het hulle vir ‘n hele tydjie gebly.

Die wond wat Generaal Beyers by Malipspoort opgedoen het, het hom heelwat gehinder. ‘n Paar Boere is terug gestuur om te gaan kyk wat van die 70 manne geword het wat agterna gekom het. Hulle het terug gekom met die nuus dat die 70 manne almal deur die Britte gevange geneem was.

Die burgers wat terug gegaan het, het ‘n klompie perde en gewere by die vyand gebuit. Hulle het ook ‘n Boer verraaier, ene Grimbeek, gevang. Hy was voor ‘n krygshof ter dood veroordeel, maar Generaal Beyers het hom begenadig en vry gelaat.

Na die harde geveg by Malipspoort, was die Boere se ammunisie byna gedaan. Buiten die swartes, was daar 60 Britte gedood. Die Boere sou baie meer gedood het as hulle genoeg ammunisie gehad het. Die Boere moes noodgedwonge terughou met hul vuur, want, indien hulle geveg het soos wat hulle gewoond was, dan sou hulle ammunisie binne slegs ‘n paar uur heeltemal op geraak het.

Die vyand het die Boere na die Wolkberg gevolg en hulle posisie in twee kolomme genader. Toe die Boere hulle gewaar, het die Boere weer op vlug geslaan, aangesien die plek waar hulle kamp opgeslaan het nie geskik sou wees vir ‘n geveg nie. Die vyand sou hulle daar baie maklik kon omsingel. Die Boere was maar min in getal en moes hulle slagvelde baie noukeurig uitkies. Hulle was baie bewus van die feit dat, indien hulle gevang word, daar nie nog andere sou wees om die oorlog voort te kon sit in die Soutpansberg gebied nie. Die vyand het egter baie versterkings gehad om die plek in te neem van dié wat op die slagveld sterf.

Die Boere het die plaas waar Koos Grimbeek ter dood veroordeel was spoedig verlaat. Jacobus het vir die generaal van ‘n plek vertel waar hulle die vyand sou kon uitoorlê. Die perde kommando het die agterhoede bewaar, terwyl Jacobus Potgieter, wat die gebied goed geken het, die voetgangers vooruit deur die berge gelei het. 


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1