Geagte lesers
Jy het gelees en gehoor dat so veel mense in die konsentrasiekamp gesterf het. Vandag, 11 April 1904, dink ek weer aan die dooies wat ek begrawe het en waarvoor ek tussen 600 en 700 grafte gegrawe het. Ek onthou die smartlike dae, die dae van trane en die dae van geween. Ja, geen enkele dag – o ja, selfs byna geen enkele uur van ‘n enkele dag - gaan verby sonder dat jy die geween en geklaag hoor en ook die gebede van die dierbare moeders, broers en susters wanneer die kinders na die lyktent gedra word, terwyl die andere met ‘n eselwa na die graf aangery word. Geliefde leser, indien jy nie daar was nie, staan vir een oomblik stil en dink daaraan. Stel jou die situasie voor en dink aan wat die profeet gesê het van die geklaag en geween. Herinner jouself waaraan die kinders in hul eie geboorteland sou sterf. Was dit dan nie van die vuur-siek beesvleis wat die Engelse aan hulle gegee het nie, of sou dit nie ook wees van die hartwater skape nie, of was dit nie ook van die longsiek beeste se vleis wees wat hulle alles geëet het nie? Dit sê ek jou dit is die waarheid. Hulle moes eet wat hulle gekry het of anders sou hulle van die honger dood gaan. My gewoonte in die konsentrasiekamp, of liewers die moordkuil, was om elke oggend na die lyktent te gaan om die name van die dooies op te neem. Die name het ek op ‘n stukkie papier geskryf en dit voor op die bors van die lyk met ‘n speld vasgesteek. Dan het ek die name in my sakboek geskryf en die lengte en die breedte van die lyke geneem en vir elke lyk ‘n graf gaan maak volgens sy grootte. Daarna het ek die naam van die lyk op ‘n briefie geskryf en die briefie in die graf, wat nog oop gelê het, gegooi. Sodra die lyk by die kerkhof aangekom het, het ons gesoek na die naam van die gestorwe in die oop grafte en wanneer die briefie met dieselfde naam gevind is, dan was die lyk, of lyke, in hul grafte geplaas. Die hoogste getal wat ek per dag begrawe het, was omtrent sestien of sewentien per dag. Tot twaalf kiste was op een eselwa gepak. ![]() |