Die JJ Potgieter Manuskrip

Die vrede van Vereeniging

Reeds op 9 April 1902 het die Boere leiers by Klersdorp byeen gekom om die moontlikheid te bespreek om ‘n einde aan die oorlog te bring. Toe is daar besluit dat ‘n afvaardiging vir Kitchener moet ontmoet om ‘n plan aan hom voor te lê. Daardie plan het die oorgawe van alle Boere voorgestel, maar het vir die onafhanklikheid van die Boere Republieke gevra. Gedurende die ontmoeting, wat op 12 April 1902 plaasgevind het, wou Kitchener nie instem nie, en die afvaardiging is gestuur om Milner te gaan spreek. Milner wou egter die oorlog nog laat voortgaan het totdat al die Boere op die slagveld oorwin is.

Die Britte het ingestem om die Boere die geleentheid te gee om die saak met al die kommando’s te bespreek en afgevaardigdes vir ‘n vredeskonferensie by Vereeniging te verkies. 

Terwyl die leiers in Vereeniging samesprekings gehou het, het die Britte hulle laaste pogings om die kommando’s tot oorgawe te dwing verskerp. Kemp het as kommandant-generaal van die Transvaal opgetree terwyl De la Rey by die besprekings was. Hamilton het Kemp se kommando aangeval. Kemp het nouliks ontsnap en op 11 April 1902 ‘n teenaanval geloods. Hulle het by Roodewal Hamilton se magte op perd bestorm. Hamilton was egter hierop voorbereid en het met 3,000 man die Boere kommando ingewag. Gedurende die geveg is 50 Boere gedood. Onder die sterftes was Generaal Piet Potgieter van Krugersdorp, wat baie heldhaftig geveg het. 

Beyers het vanaf Soutpansberg eers na Pretoria gegaan om met Kitchener samesprekings te voer. Kitchener was egter nie van voorneme om enige poging tot rekonsiliasie aan te wend nie, en het Beyers gedreig met nog skerper optredes.

Die finale besprekings, wat op 15 Mei in aanvang geneem is, was van die begin af baie vurig en het vir verskeie dae aangehou. Sestig afgevaardiges het op die koue en mistige môre met die lede van die Transvaal en Oranje-Vrystaat se regerings by Vereeniging vergader. Voordat die samesprekings begin het, is Generaal Beyers as voorsitter van die verigtinge verkies. Botha, Smuts en De la Rey het saam met President Burger om oorgawe gepleit, terwyl Hetzog, De Wet en Reitz geweier het om hul onafhanklikheid af te staan. Milner het geen begeerte gehad om die oorlog te eindig sonder onvoorwaardelike oorgawe deur die Boere. Kitchener het uiteindelik ‘n deurbraak bewerkstellig toe hy die Boere oortuig het om oorgawe met sekere voorwaardes te aanvaar. Hierdie voorstelle het hy aan Milner voorgelê. Dit was nie heeltemal wat die Boere wou gehad het nie, maar die het darem ‘n paar kompromieë ingesluit:

-Alle Boere van beide Boere Republieke moes oorgee
-Alle vegters sou ontwapen word
-Elkeen wat trou sweer aan Brittanje sou vrygelaat word
-Die wat weier sou na krygsgevangenekampe buite Suid Afrika gestuur word
-Geen doodstraf sou opgelê word nie
-Algemene amnestie
-Hollands sou in die skole en in die hof toegelaat word
-Geregistreerde gewere sou toegelaat word
-Transvaal en die Vrystaat sou onder militêre beheer staan
-Drie miljoen pond sou toegestaan word om die land weer te herbou
-Rekonstruksie van die regering
-Geen stemreg aan swartes
-Eiendomsreg van boere sal herken word
-Geen spesiale grond belasting sou gehef word nie

Op 23 Mei het die Boere verteenwoordigers weer bymekaar gekom om die voorstelle te bespreek. Na nog vele dae van gestryery was die voorstelle op 31 Mei 1902 met 54 stemme teenoor 6 aanvaar en dieselfde nag om 6 minute na 11 in Pretoria onderteken.

Die 6 wat teen die voorstelle gestem het was: Generaal JCG Kemp, Kommandant JJ Alberts, JF Naude, Assistent Hoof Kommandant CCJ Badenhorst, Kommandant AJ Bester, en Kommandant CA van Niekerk.

Die vredesverdrag is namens die Transvaal onderteken deur Burger, Reitz, Botha, De la Rey, Meyer en Krogh. Namens die Vrystaat het De Wet, Hertzog, Brebner en Olivier geteken.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1