Die vyand kon nie die Boere uit hul skuilplek dryf nie
en het hulle weer omsingel. Die Boere was toe maar baie min in getalle
gewees. Die Boere moes toe vinnig planne maak om deur die vyand se linies
te breek om kos te vind. Hulle was nou aan die dorre kant van die berg
gewees. Die enigste kos en water in die omgewing was deur die Britte beset.
Die Boere het vir een volle dag reg wes gevlug en toe suid geswaai en weer tot naby die vyand se linies beweeg, waar hulle skuiling in ‘n kloof gaan soek het. Nou moes hulle vinnig planne maak om kos en water te kry. Hulle was 68 blanke mans en 4 jong swart handlangers. Hulle besluit toe om 7 manne saam met 2 van die handlangers te stuur om kos by die swartes te gaan koop. Hulle sou enigiets eet, net om weer kragte te herwin. Hulle was toe al reeds drie dae sonder kos. Jacobus Potgieter het omtrent 3 pond mieliemeel gehad, wat hy vir ‘n noodgeval bewaar het. Hulle het pap gemaak sodat elke burger kon darem 1 lepel vol pap kon kry. Hulle was maar net dankbaar dat hulle wel iets kon kry. Die volgende oggend het die Boere skote gehoor. Die 7 burgers wat die vorige dag gestuur was om kos te gaan koop is deur die vyand gewaar en gekeer om na die kommando terug te keer. Hulle het al die kos wat hulle gekoop het in die vyand se hande verloor. Die twee handlangers wat saam met die burgers was is gevange geneem en het die Boere se wegkruipplek aan die vyand verraai. Hulle het die vyand in die kloof, waar die kommando weggekruip het, in gelei. Die vyand het byna die kommando omsingel en gevang, maar die Boere het betyds weer die berge in gevlug. Die vierde dag sonder kos het die burgers begin om flouhartig te raak. Hulle het gehoop dat hulle teen daardie tyd kos sou vind, maar dit wou nie so uitwerk nie. Hulle was nou reeds baie honger en dors. Dinge het net al hoe slegter begin gaan. Hulle het verder met die kloof langs gevlug en hulle teen ‘n krans vasgeloop. Een vir een het hulle met ‘n boom langs opgeklim na bo. Daar was nou nog net 61 burgers oor. Drie burgers is op ‘n rif agter gelaat om te wag te hou, maar hulle het aan die slaap geraak. Kommandant Bierman het aan Jacobus Potgieter gesê om saam met sewe man te gaan en ‘n plek te gaan soek waar hulle gedurende die nag deur die vyand se linies kon breek. Die kommando was toe reeds ten volle deur die vyand omsingel en kon geen kans kry om te ontsnap nie. Jacobus het die sewe manne geneem en teen ‘n steil berg op gegaan. Hulle moes die meeste tyd op hande en knieë teen die hange van die berg op kruip. Hulle het baie versigtig beweeg, aangesien hulle verwag het om enige oomblik in die vyand vas te loop. Toe hulle bo-op die berg kom, kon hulle die vyand se kampvure gewaar. Hulle kon sien dat die vyand die berg geheel en al omsingel het. Jacobus het nie geweet dat daar drie burgers bo-op die berg was wat aan die slaap geraak het nie. Die agt manne het in ‘n enkele ry versigtig oor die berg beweeg. Skielik het hulle op die drie manne wat onder komberse gelê en slaap het afgekom. Daar was twee Duitsers en een Afrikaner. Die burgers het Potgieter se groep voorgekeer, onder die indruk dat dit vyandelike troepe was. Potgieter kon die manne nie goed in die donker sien nie, en het weer gedink dat die drie manne vyandelik was. Die burgers wat saam met Jacobus was het geskrik en op vlug geslaan. Net twee het agter gebly. Hulle het hulle gewere op gepluk en was gereed om te skiet, maar het net betyds, voordat hulle gevuur het, die stemme herken. Drie van die burgers wat op vlug geslaan het, het net so entjie daarvandaan weer tot stilstand gekom, maar die ander twee het die heelpad die berg af na die kommandant gehardloop. Hulle het aan die kommandant vertel dat Potgieter en die ander manne deur die vyand gevang en gedood was. Mens kon hulle ook nie eintlik blameer nie, aangesien dit donker was en die vyand die hele gebied vol was. Die burgers het verwag dat enigiets kon gebeur. Jacobus het onmiddellik iemand na die kommandant gestuur om hom van die ware stand van sake in te lig. Die twee manne het totale verwarring onder die kommando veroorsaak met hulle storie. Die kommando het gevrees dat die vyand hulle ook sou kom vang en wou net op vlug slaan. Jacobus het die kommandant en die res van die kommando na die bokant van die berg laat roep, waar hulle planne gemaak het om deur die vyand se linies te breek. Deur die nag het hulle toe terug gekeer na die plek waar hulle vyf dae gelede begin het. |