Na donker, op die 22ste Januarie verlaat hulle weer die
bosse. Hulle stoot aan, aangesien daar mense was wat heeldag in die omgewing
rond geloop het. Gelukkig het niemand hulle gewaar nie. Hulle het tot omtrent
tien uur die aand geloop. Daar was nêrens waar hulle heen kon gaan
nie, aangesien daar vyandelike mense orals voor hulle was wat al die paaie
versper het. Hulle loop toe al langs ‘n klipperige paadjie, totdat hulle
by ‘n groot stat kom wat maar net ‘n sowat tien tree van die pad af was.
Hulle vertrou toe op die donker van die nag om stilletjies verby te gaan. Hulle grootste probleem was dat hulle geen wapens gehad het om hulle mee te verdedig nie, sou hulle gevang word. Jacobus het voor geloop. Na ‘n entjie kom hulle tot reg langs die mense. Jacobus kon hulle hoor praat. Hy het aangeneem dat hulle langs die pad gestaan en gesels het, maar hulle was toe eintlik in die middel van die pad! Dit het geklink of daar ‘n soort van partytjie aan die gang was. Daar was die gespeel van fluite, en liedjies was gesing, terwyl ander geskree het aan albei kante van die pad, en ook vorentoe in die middel van die pad. Jacobus en die ses ander burgers het in ‘n reguit lyn agter mekaar geloop. Die maan het begin om helder te skyn. Toe hulle tot omtrent dertig tree van die mense af was, begin ‘n klomp kinders in hulle rigting resies te hardloop. Daar was net ‘n kort draaitjie in die pad voordat die kinders by hulle sou kom. Skielik het ‘n genadige miswolk voor die maan in beweeg. Dit was pik donker. Die sewe burgers het vinnig teen ‘n wal op gespring en stil in die gras gaan lê. Die kinders het hulle gelukkig nie gesien nie. Die kinders het tot sowat drie tree van hulle gaan stop. Die manne het so stil as wat hulle kon gelê. Hulle het geweet dat hulle vermoor sou word as hulle daar gevang word. Na ‘n tyd begin die kinders om daar reg langs die burgers te baklei. Hulle het mekaar geklap en met die vuis geslaan. Die burgers was bang dat hulle sou begin stoei en een van die kinders kon bo-op hulle val. Na ‘n tyd het die kinders weer so dertig tree van hulle af weg gehardloop met die pad af. Die burgers het vinnig opgespring en in ‘n mielieland in gehardloop. Nadat hulle vir ‘n ruk gehardloop het, begin hulle weer te stap. Hulle loop toe reg in ‘n ander stat vas. Iemand het hande geklap. Die burgers swenk toe na die kant en vlug die lang gras in. Hulle het toe so deur die lang gras aangehou totdat hulle teen ‘n rivier vasgeloop het. Die rivier het sterk gevloei. Daar was egter nie tyd om te verspeel nie en hulle moes oor die rivier kom. Willie van der Gijft kon nie goed swem nie. Jan Venter het die voortou geneem om eerste deur te gaan en te kyk hoe diep die rivier was. Dit het nie lank geduur om deur die rivier te kom nie en die burgers kon verder gaan aan die ander kant van die rivier. Teen die tyd dat hulle die rivier oorgesteek het, was dit al omtrent elf uur in die aand. Hulle het omtrent half twaalf begin om Wolkberg op te klim. Die berg was baie styl en die meeste van die tyd moes hulle hande-viervoet kruip. Hulle het hulle koffieketel aan die onderkant van die berg vergeet, waar hulle gerus het voordat hulle die berg aangedurf het. Niemand het die krag gehad om om te draai en die ketel te gaan haal nie. Teen een uur in die oggend het die manne die kruin van die berg bereik. Hulle was honger, maar het min kos oorgehad. Daar was omtrent een pond brood tussen die sewe mans. Die brood was deurweek van die reën. Hulle besluit toe maar om die brood liewers te spaar vir die volgende dag. Hulle loop toe al met die bergtop langs, totdat hulle ‘n put vol helder water by ‘n ou verlate goudmyn kry. Daar het hulle gaan sit en water gekook en lekker koffie gemaak. Hulle moes die koffie drink om die honger te stil, voordat hulle daar vir die res van die nag geslaap het. |