Die JJ Potgieter Manuskrip

Jacobus ontsnap

‘n Taamlike lang tyd het verby gegaan wat Jacobus glad nie enige nuus van die kommando gekry het nie. Eendag het Jacobus skielik nuus ontvang van waar die kommando hulle bevind. Die Britte het ‘n vrou uitgestuur na die kommando om met hulle te praat en hulle te oortuig om oor te gee. Hierdie dame se man het by die vyand aangesluit en het teen die Boere geveg. Sy het niks vermag nie, anders as om inligting oor die kommando na die kamp terug te bring nie. Jacobus het onmiddellik planne begin maak om terug te keer na die kommando.

Hoofsaaklik die laer klas Boere het by die vyand aangesluit as verraaiers vir 5 sjieling per dag om die Afrikaner te vermoor. Baie het gevolg. Die vyand het ook geprobeer om Jacobus te oortuig om by hulle aan te sluit, maar hy het dit teengestaan. Hy was onregverdiglik gedwing om oor te gee. Hy sou dit nie gedoen het nie as hy enige ander manier kon kry om uit sy benarde posisie te kom.

Na ‘n tyd het Jacobus ‘n paar maats bymekaar gekry wat belang gestel het om saam met hom te ontsnap. Hulle gesinne was nou veilig van die swartes se plundery. Niks het meer in hulle pad gestaan nie. Al het die vyand ‘n wakende oog gehou oor die Boere wat verset het teen die Britte, het Jacobus nogtans daarin geslaag om in die geheim omtrent dertig man bymekaar gemaak om hom te volg.

Elke dag het daar waens uitgegaan om hout te gaan haal. Jacobus het ‘n geleentheid gekry om saam met die waens te gaan om hout te haal. Die nag voordat die waens vertrek bespreek die mans hulle geleentheid om te ontsnap en na die kommando terug te keer. Baie het te bang geword om met die plan deur te druk. Net sewe mans het volhard.

Hulle het hul planne vir die ontsnapping haarfyn uitgewerk. Elke man het genoeg kos vir vier dae en twee stelle klere gepak. Hulle het klere uitgekies wat sterk genoeg was om vir ten minste een jaar te hou.

Die sewe mans was vroeg die volgende oggend gereed. Onseker oor wat sou kon gebeur, het Jacobus sy vrou en kinders gegroet. Omdat hulle bang was dat die Britte sou kon vermoed dat iets verkeerd is, het hy sy gesin in die tent gebly. Die kinders het gehuil. Hulle was nou veilig teen die aanvalle van die swartes, maar was hulle veilig in die hande van die Britte?

Jacobus was ten volle bewus van al die gevare wat sy gesin in die gesig sou staar. Margritha het 7 kinders gehad om na om te sien. Jacobus het menigte lyke begrawe in die dae wat hy in die konsentrasiekamp deurgebring het. Het die meeste kinders wat hy begrawe het dan nie gesterf van giftige kos nie? Wat sou gebeur as een van sy kinders siek word? Die mediese geriewe was totaal onvoldoende. Voordat hy gegaan het, het hulle gebid en die Here gevra om sy familie te beskerm teen die gevare. Toe vra hy die Here om hom die pad te wys na die kommando. 

Met benoude gevoelens het die manne op die waens geklim. Jacobus het ‘n lang tyd vir hierdie geleentheid gewag. Hy het op die Here vertrou om sy familie te beskerm. Nou moet hy net aan sy poging om te ontsnap dink. Hy kon nie meer langer in die konsentrasiekamp bly sit terwyl die Britte sy land verwoes het. Hulle het seker gemaak dat daar niks fout kan gaan nie. Toe die son begin opkom het die 60 waens die kamp verlaat, op pad na die houtvelde.

Die manne wat volhard het was: Jacobus Johannes Potgieter, AJ van Jaarsveld, CJ Potgieter (Johannes se broer), SJ de Beer, JH Venter, C Harmse en W van der Gijft.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1