Die Soutpansberg kommando was besig om uitmekaar te val
toe Generaal Beyers deur die regering daarheen gestuur was om op te tree
as generaal van die Soutpansberg en Waterberg kommando’s. Daar was gou
wesenlike verbetering te bespeur in die kommando’s. Beyers het aan die
burgers gewys dat hy ‘n baie dapper man was en ook ‘n uitstekende leier.
Alhoewel hy nooit amptelike opleiding in die krygskuns ontvang het nie,
het hy verstaan hoe om ‘n aanval te lei en hoe om die beste gebruik te
maak van die omgewing. Op 26 September 1900 het hy die burgers aangespoor
tot nuwe hoogtes deur die voorbeeld op die slagveld te stel gedurende die
aanval op die Britse kamp by Pienaarsrivier.
Baden-Powell het na die Noorde beweeg om na De Wet se manne te gaan soek. In ‘n skermutseling by Pienaarsrivier het Baden-Powell 25 Boere gevangene geneem en 5 man (insluitende Kolonel Speckley) verloor. Baden-Powell het toe na Pretoria terug gekeer en vir Paget in beheer gelos om die opmars na die noorde te lei. ‘n Paar dae nadat Jacobus Potgieter in die Noord Transvaal aangekom het, moes die Soutpansberg kommando na Warmbad gaan. Pretoria was toe reeds in die hande van die vyand. Die Boere het in Warmbad weerstand teen die vyand gebied en hulle vir maande terug gehou. Uiteindelik het Paget in November na Pienaarsrivier terug getrek om kragte te herwin. Die Boere het Warmbad, in die Waterberg distrik, behou as voorste geveg front. Baie Boere van die Warmbad gebied het saam met die vyand na Pretoria gevlug. Die Boere was moeg geveg en het oorgegee aan die vyand en hul wapens ingehandig. Dag na dag het baie die Boere op die manier verraai. Baie ander het vas gebyt en geveg. Party van diegene wat by Warmbad oorgegee het, het later na die Boere kommando teruggekeer om die ander ook te oortuig om oor te gee. Jacobus Potgieter was by Warmbad deur die burgers verkies as veldkornet van die Houtbosberg wyk en moes onmiddellik na Houtbosberg terug keer. Paget het sy tweede veldtog na die noorde op 29 Maart 1901 begin. Hierdie keer het hy ‘n weermag van ‘n redelike sterkte gehad. Die Boere het nie veel weerstand gebied nie toe Paget die opmars van 170 myl vanaf die Pienaarsrivier na Pietersburg begin het. Paget het Pietersburg op 8 April ingeval. Op pad het die Britte alles wat hulle hul hande op kon lê na Pretoria terug gevat. Vroue en Kinders was na die konsentrasiekampe geneem. Beeste was na Pretoria geneem om aan die Britse weermag kos te verskaf. Alles wat hulle nie op die treinwaens kon laai nie was afgebrand. Huise, plase en landerye was alles verwoes. Pietersburg was die grootste dorp in die Noord Transvaal en was van taamlike waarde vir die Britse magte. Deur Pietersburg in te neem het die Britte effektiewe beheer oor die hele Transvaal verkry. Die Boere magte was nou die berge in gedryf, sonder enige permanente basis. Colenbrander en Plummer is toe in beheer gelos van die operasie om die res van die Noord Transvaalse platteland op te ruim. Plummer het die lengte van die Olifantsrivier beset om te keer dat die Transvaalse regering na die noorde kon ontsnap. Die Soutpansberg gebied was ‘n groot uitgestrekte gebied, onvriendelik en onbekend aan die Britte. Hulle magte was te min om die hele gebied te dek. Om sake vir hulle makliker te maak het hulle ook die swart stamme in die Noord Transvaal bewapen. Die Boere was te min om die Britte te keer. Die Britse magte was te sterk. Toe die Britte Pietersburg ingeval en geplunder het, het hulle die vroue en kinders na ‘n konsentrasiekamp naby Pretoria geneem. Toe die Boere die oorweldigende mag van die Britte sien het baie burgers hul eie kommando’s verraai. Jacobus Potgieter het toe sonder meer as veldkornet bedank.. |