Die JJ Potgieter Manuskrip

Bitter herinneringe

Die Afrikaner kon nie maklik vergeet of vergewe nie. Net om aan die lewe te bly moes die vrouens hard werk met hulle hande. Meesal vroue was as krygsgevangenes in die konsentrasiekampe aangehou, net sodat hulle mans nie huis toe kon gaan nie. 

Die saak wat die naaste aan die Boer se hart gelê het, het die Britte ook probeer om van hulle weg te neem, naamlik hulle moedertaal. Die kinders was slegs een uur per dag by die skole toegelaat om in Afrikaans te leer. Op 11 April 1904 het JJ Potgieter, AP Digue en LC Alberts ‘n privaat skool geopen, waar die kinders vrylik in Afrikaans geleer kon word sodat hulle ‘n liefde vir hul eie moedertaal kan hê. 

Die Afrikaner nasie het geweier om te verander en om Britse onderdane te word. Dit was onmoontlik vir mense wat as Afrikaner gebore was, ‘n vreemde nasionaliteit te aanvaar, want enigeen wat sy eie volk afstaan en ‘n ander aanhang, het geen egte gevoelens in hom nie. 

Die herinneringe van die konsentrasiekampe sou vir die volgende 100 jaar by die Afrikaner volk bly. Jacobus het elke dag nog gedink aan die ses tot sewe honderd grafte wat hy gegrawe het gedurende die tyd wat hy in die Pietersburg konsentrasiekamp gebly het. Nie ‘n enkele oomblik van ‘n enkele dag het in die kamp verby gegaan sonder dat hy moes luister na die geween en gehuil van die moeders, broers en die susters van dié wat gesterf het en op sy muilwa weggeneem was. Die meeste het gesterf van die vuur-siek beesvleis wat hulle moes eet. Die meeste beeste wat hulle geëet het was siek en die skape het van hartswater gevrek. Die mense moes eet wat hulle gekry het, of anders het hulle van die honger gesterf.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1