Die mense in die fort het al desperaat geraak. Hulle het
die perde uit die fort uit gejaag om water te bespaar. Die perde is dan
deur die Boere gevang. Tien dae later het die vyand ‘n sterk mag gestuur.
Die bevrydingsmag was vir die Boere te sterk en die Boere kommando was
te vêr uitmekaar versprei gewees.
Daar was ‘n digte miswolk oor die gebied. Toe Jacobus en die manne gewaarsku word dat die vyand in aankoms was, was die vyand al reeds amper tot by die fort gewees. Hulle het van ‘n kant af gekom waar die Boere dit glad nie verwag het nie. Toe die Boere spioene gestuur het om ondersoek in te stel, het die vyand een van die spioene gevange geneem. Die ander een het hom na die kommando terug gehaas om die kommando te waarsku. Jacobus was in ‘n groep van ongeveer veertig man gewees. Die res van die kommando was ‘n hele ent weg van die fort gewees, waar hulle in die pad gewag het. Die burgers het dadelik die een vleuel van die vyand bestorm en op hulle gevuur. Die ander vleuel van die vyand het toe al reeds die burgers halfpad omsingel en hulle van agter begin skiet. Die burgers se versterkings was vêr van hulle af weg gewees. Hulle was wel naby aan die fort gewees waar daar burgers wat die fort omsingel het gelê het, maar daardie burgers kon nie tot hul hulp kom nie, aangesien hulle die fort moes dophou. Al wat hulle kon doen om lewend daar uit te kom was om uit te probeer jaag. Die vyand het met swaar geweervuur op hulle geskiet, maar hulle het darem daarin geslaag om uit te kom sonder om ‘n enkele man te verloor. Die veldkornet se perd het met hom op hol geraak en hom afgegooi. Hulle het gou daarin geslaag om die perd te vang en die veldkornet te red. Jacobus se ou maat, Albert van Jaarsveld se hoed is van sy kop af geskiet, maar hy het met sy kaalkop lewend daar uit gekom. Die Boere het daarna die beleg van die fort opgegee. Toe kon die vyand weer gaan water drink, want hulle was toe al baie dors gewees. Nadat die kommando die aftog geblaas het, stuur die veldkornet vir Jacobus en vyftien manne om die omgewing by Spelonken te gaan verken. In die digte mis het hulle die hele dag lank geheel en al verdwaal. ![]() |